Adventures & Stories
Padkos
my padkos
by my skuiling gelos
my stewels vreet die teer maar my voete word nooit seer slegs ‘n gatsak vol gisters ‘n rugsak vir nou ‘n teerpad vol opwinding ‘n oosterkim vol hoop my drome in ‘n kussingsloop vas geknoop ‘n glimlag op my mond terwyl ek loop
luister en hoor daar
die woorde van die barbaar
geniet
my akkoorde, my hart se lied
© Sybie
NOORD
flentergat
met ‘n bontgelapte gatsak
vol van gisters, eergisters en lank terug se tyd herinneringe van trane, bloed en sweet gedagtes wat die afstand meet dalk is dit eng, dalk is dit wyd
geradbraakte skoensole
ken die swier van die rooi mat
die lym-slym van die hole
die plat van die pad
die asem-terg van die berg
die suig-brand van die sand
hartsdrome wat hoog sweef
gevolg deur oë wat skerp-kyk skreef
gebeitelde hande sonder ruk of beef
gelouterde liggaam wat voluit en driftig leef
‘n getemperde weg-sweef siel
plek plek geskaaf, plek plek verniel
‘n sagte, skor stem
deur onbruik gerasper en stil gelem
geen of min woorde oor gebarste lippe
wat wydsbeen, wysieloos fluit
oor bome, bosse, rotse en klippe
om sonder ‘n eggo teen die kruine te stuit
ingesweis lê die koers na noord
daar waar die vrysiel hoort
en agter in modder en in stof
oor die sag en deur die rof
lê die voetspore gesmelt
op teer, beton en veld
‘n verwerpte, vergete held
sonder woorde, sonder bagasie, sonder geld
stap hy sy lewensbaan
waar dit ookal mag lei, of mag gaan
stil grou oë stip verlore
staar na die onbekende môre
maar sag dobber die begeerte in die hart
weg van die seer, die pyn, die smart
flentergat
met die bont gelapte gatsak
en ‘n wydsbeen, wysielose fluit
op koers na noord, weg uit suid
© Sybie
So na die ‘’lekker’’ naweek, so stukkie skaamkop se versie( Lees met jou groottoon in jou kies)
ONS EN DIE SAND
die partie is verby dit was jol, jive en dans met elke kans ‘n dop, ‘n druk en ‘n vry en tone krul van lekkerkry
maar nou lê ek en jy
kaal op die sand
net so bokant die seewater se kant
beide gluur na die maan
effens gedaan
wou nog verder loop
maar my bene het sommer geknoop
streel jou koel gladde lyf
voel my nek word styf
van al die gebuig
sal jou moet nader skuif
dig teen my dorstige lyf
vat jou om die nekkie
suigsoen jou op jou lekker bekkkie
vir ‘n salig ruk
kan ek jou soet nektar sluk
dan weer styf
teen my koorsige lyf
steeds kaal en alleen
dit het nou lekker begin reën
maar al wat ek vra
is dat niemand ons moet pla
sonder enige angs of pyn
ek en my bottel brandewyn
en so aan
© Sybie
‘n Ou versie, vir ‘n nuwe week. Geniet die week en so aan
Woorde
bring ‘n emmer saam maak nie saak waar vandaan jy kom of waar heen jy gaan wie of wat jy is kom kry gerus
skep uit my woordfontein
soms is dit brak, soms rein
woorde vir die plesier en die pyn
kom les jou dors
jy kan maar mors
my woorde kos nie geld
die betekenis kan ook nie verwelk
of wegsmelt
my siel is die pen
gedoop in my hart se ink
lees die woorde en wen
kom en drink
ek sal oophand skink
is dit dalk te veel
kan jy dit gerus uitdeel
kom luister na my
huil of voel bly
jy sal verstaan
my woorde bring nie net ‘n lag
maar ook ‘n traan
woorde het die krag
met jou hande kan jy iets vermag
met jou mond kan jy swets en lag
lees en vertel jou verhaal
in ons eie wonderlike taal
©Sybie
LESSE OP DIE VRYPAD
VRY
So deksels lekker,soet, onstuimig, stormagtig en soms pynlik, maar tog so opwindend!
Nou gedreig om te leer oopbek vry, of anders word ek ‘geblackball,’ en ek hou van Nugget Polish net op die skoene, nie in die middel nie!
Nou … die geharde vryers het deur middel van ‘n kussing, my die tegniek laat oefen en so paar vashou moves ook. So … toe die groot dag aanbreek, kon jy maar sê my kripnotes was in my hoof gesweis.
DIE AFDAK MOVE
Vat ek vir Koekie, so 9 uur die aand, op die plaas om die hoenderbatterye se gasligte te gaan afsit. Ons stap na die verste punt toe, sit die flits neer, maak ‘n einde aan die gaslig, en toe gee ek haar my vryersstem. “Koekie, ek en jy ken mekaar van kleins af, is nou tyd om mekaar beter te leer ken!”
“Jy moes al lankal!” koer sy, en ek gripp haar. Eers ek gee haar die oopbek-soen-smeer move, toe die gripp, so met die voorarms.
“Stadig!” hyg sy. “Jy breek my ribbes.” Ek ontspan die spiere, maar daar kom ‘n ander neukery. Ek begin my onderlyf in reverse druk, en sy hyg …“Staan nader!” Maar not te demn, ek reverse meer.
Staan soos ‘n afdak daar, want by my onderlyf roer en bewe goed wat nie normaalweg so is nie. En ek kry skaam, maar o, hel dit is wydlekker!
Maar die tyd loop uit en ons stap terug, maar smaak my ek voel soos wyle Neil Armstrong. Die verskil is net hy moes hel ver travel om op die maan te kan loop, en ek doen dit sommer hier. Kom ons by die huis, sit Ouboet nog daar. Gesels so oor alles … dit is nou hulle … want ek het nog oopbek-skok. Sy leen sy ‘n sakdoek om haar bril skoon te maak, en wink hy my eenkant.
“Onthou, haal haar bril af as jy vry!”
Bloomin cheek, loer hy my nog af ook! Daar’s niks in my opleiding enige iets vermeld van brille nie!
DIE BULLDOZER MOVE
Vra die koskuispelle my uit oor die naweek se praktiese oefening, en ek vertel hulle … ook van my afdak staan.
“Nee, man jy staan teen haar, daai onder dinge moet so wees!” antwoord no 1
“Hulle laaik dit!” dit is no 2.
“Hoekom?” Dit is ek daai.
“Want hulle laaik dit, as hulle voel jy laaik hulle!” Dit is no 3, en hy is die grootste en oudste, so hy is die regste!
En ek kry vir Lettie so gedurende die Volkspele (Sokkies het mos eers later jare begin) onder die bome en ons vat vlam. Ek is sommer allover, is mos soet, luister na die deskundiges, en ek stoot stewig vorentoe! Maar sy klap my, dog eers iemand het die skool se ligte aangesit.
“En nou?” Ek is mos volgens opleiding nog reg en op koers.
“Julle dink ook net aan een ding!” en daar trek Lettie, en ek staan daar met my skeef geklapte bek. Ek wonder wat het ek aan gedink, wat ek verkeerd aan gedink het.
TE DIEP MOVE
En ek kry verder opleiding, en ek leer daai kussing dat sy soen soos Bridgette Bardot … en ek’s vol kennis en taktiek.
Ek vat toe vir Sandra agter die asbes klaskamers in, die volgende Volkspele. En ek staan styf, handbriek op getrek en ons vry. Ons vry, en toe skrik ek my gaai in neutral in, want sy druk haar tong in my oopbek, en amper oorhandig ek die middag se Koshuis vis en tjips vir haar. Maar ek hou uit, en ek tong haar terug!
“Jiggghhhh!” sê sy “Dit is te diep!”
“He!He!” lag iemand hier tussen die bome, en daar trek sy!
“Sybs, wat de hel het jy te diep gedoen?” Dis no 3, en in die maanlig lyk sy oge soos twee spotlights.
“My tong te diep in haar mond gedruk!” Ek lag nie, ek’s opgetjaarts, en staan hier tussen die spul instrukteurs.
“Hel, was net bang dat jy vooruit gaan leer!” antwoord no 1.
DIE BRA MOEILIKE MOVE
Toe kry ek die volgende deel van my opleiding, en dit lyk vir my heel beterder. Teen ek die als reg van die bevelvoerder gekry het, hang die punte van my sponskussing soos nat vadoeke, heel flenters gesoen en so aan! Ou Brian kry darem vir my een van sy susters se ou buustelyfies, daarmee moet ek al die moves en losmaak tegnieke oefen. Maar elke ou kry beurt om met die lyfie onder sy kussing te slaap, want ou Brian het beautiful susters.
Hulle reël vir my ‘n girl wat skynbaar nie so bang is nie. Maureen en ek staan uit, en sy grip my langs die ou moerse roeiboot (Vlootkadette in die middel van die Vrystaat, kan jy dit glo) en sy ken, sy laaik, sy help. En ek soek, terwyl ek vry en soen, soek my hande oor daai strêps maar ek kry niks, geen losmaak plek nie.
“Voor!” mompel sy, en ek sukkel voor. Maar toe ek net daai spitspunte voel en geen hek nie, toe slaan die engtevrees my stembande los en ek roggel net hees … “Fokit, help my!”
Dink dit is genoeg en dalk te veel.
© Sybie ( Gister se Pad)
Adventures stories- https://www.facebook.com/sybie.kleynhans?fref=ts